Meer oor ons en wat ons glo
Die Christus Gereformeerde Kerk is ’n kerkplant van die Vrye Gereformeerde Kerk Bellville. Ons vergader elke Sondag in die pragtige dorpie Robertson om die drie-enige God te aanbid, Hom te loof en te prys, en na die verkondiging van sy Woord te luister. Ons is tans sowat agt gesinne (met baie kindertjies) wat vergader in die huis van ons bedienaar. Almal is hartlik welkom!
Die Christus Gereformeerde Kerk glo dat die Bybel die geïnspireerde en betroubare Woord van God is en die hoogste gesag vir geloof en lewe. In die Bybel maak God Homself en sy wil aan ons bekend. Sy wil is dat alle mense van elke volk, nasie en taal Hom moet ken en liefhê. Dit het God self moontlik gemaak toe Hy vir ons die grootste geskenk gegee het: die lewe van sy eie Seun wat uit liefde vir sondaars mens geword het en aan die kruis vir ons sondes betaal het toe ons nog sy vyande was. In Hom mag ons weer in ’n regte verhouding met God staan, ’n lewende verhouding met Hom hê tot in ewigheid, en ook sy groot liefde aan mekaar bewys. Daar is niks wat ons gedoen het om die geskenk van hierdie nuwe lewe in Christus te verdien nie. Ons kan dit slegs in geloof aanneem, tot lof en prys van Hom wat ons so liefgehad het!
Die leer van die Christus Gereformeerde Kerk word saamgevat in die drie ekumeniese belydenisse en die Drie Formuliere van Eenheid. Ons glo dat hierdie dokumente ’n getroue samevatting is van die leer wat God self in sy Woord openbaar, en dat hulle in alle opsigte onderhewig is aan die Skrif.
Of u nuut is in die Christelike geloof, op soek is na ’n geestelike tuiste, of tydelik in die Robertson-omgewing is, wil ons u graag hartlik uitnooi om ons te besoek, saam met ons God se Woord oop te maak en te luister na God se groot genade wat in Jesus Christus geopenbaar is.
U is ook hartlik welkom om ons Sondagaand Bybelstudie te besoek, waar ons op ’n meer informele wyse die dieptes van God se Woord saam ontdek.
